Top
Image Alt

Renosters geskuif

Renosters geskuif

Toestelle ingesit wat hulle opspoor

Deur Claudi Mailovich Vrydag 17 Oktober 2014 7:05 vm.

Die Krugerwildtuin se vangspan help ‘n verdoofde renoster om in die vervoerhouer in te stap. Foto’s: Cornel van Heerden

​Edna Molewa, minister van omgewingsake, het gister ingespring en haar hande vuilgemaak om DNS-monsters van renosters te neem. Dit was tydens ‘n renosterhervestigingsoperasie in die Krugerwildtuin. “Ek wil hulle net ‘n soentjie gee, want hulle is sulke mooi diere,” het sy speels gesê nadat sy monsters geneem het van die vyf renosters wat van hoërisikogebiede in die wildtuin na
laerisikogebiede geneem sou word.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, help om ‘n DNS-monster te neem.

” EK WIL HULLE NET ‘N SOENTJIE GEE, WANT HULLE IS SULKE MOOI DIERE. ” – Edna Molewa, minister van omgewingsake

​’n Span van SANParke het die diere verdoof en gevang om hulle te hervestig. Alles het vlot verloop. Die span van onder andere veeartse en ‘n hoogs gespesialiseerde helikopterloods werk al 15 jaar saam. Molewa is tevrede dat die plan om die renosters te beskerm, uitgevoer word. Die parlement het dit in Augustus goedgekeur. Die hervestiging van die diere is volgens haar net ‘n deel van die massiewe stryd teen renosterstroping. Sy het gesê Suid-Afrikaanse verteenwoordigers bespreek die kwessie met China. Viëtnamese veg ook vir die saak in veral sosiale media, het die minister gesê. “Die vraag na renosterhoring moet verminder word.” Nadat die renosters verdoof is, is onder meer DNS-, bloed- en haarmonsters geneem. Opsporingsmeganismes is ook op die renosters gesit.

Danie Pienaar, waarnemende hoof van die wildtuin, het gesê hulle is “seker van die beste in die land.”

‘n Krugerwildtuin-werknemer maak een van die renosters se oë toe nadat die dier verdoof is.

Een van die renosters wat gevang is, is ‘n dragtige koei wat saam met haar kalf hervestig is. Hoewel hulle nie gewoonlik sulke groot, volwasse renosters skuif nie, is dit gedoen omdat haar lang horing haar ‘n teiken sou maak en om seker te maak die kalfie word nie wees gelaat nie. Pienaar het vertel hulle beplan om vandeesmaand sowat 30 renosters in die laerisiko­gebied binne die wildtuin te hervestig. Hy het gesê die ideaal is egter om hulle eerder uit die park te skuif na ander parke en plase in die land omdat daar reeds baie renosters in die laerisiko-gebied is en dit nadelig is wanneer te veel renosters by mekaar is. “Die Krugerwildtuin is tans ‘n baie gevaarlike plek vir renosters, hoewel dit ekologies gesproke die beste plek is,” het Pienaar gesê.

REFERENCES: Deur Claudi Mailovich Vrydag 17 Oktober 2014 7:05 vm.

Beeld Vrydag 17 Oktober 2014