Stropers hou plaas 8 dae dop
Troetelrenosters afgemaai
Deur Elise Tempelhoff Woensdag 15 Oktober 2014 1:20 vm.
“Kyk na ‘n gestroopte renoster, die oopgekapte, bebloede gesig, en jy sien Suid-Afrika se polisiediens, ons hospitale, ons paaie vol slaggate, Eskom, Transnet, die SAL, ons president wat na niks en niemand luister nie en Julius Malema wat dreig om als van ons af weg te neem.”So het dr. Deon van der Merwe van Middelburg gister gesê nadat sy twee jong troetelrenosters, Mollie en Wors, Saterdagaand in hul kamp op die familieplaas naby Groblersdal met grootkaliber-gewere doodgeskiet en hul horings afgekap is. Van der Merwe het gesê hy kan nie meer na ‘n volmaan kyk en Suid-Afrika se natuurskoon bewonder nie omdat stropers renosters in die maanlig afmaai”Gestroopte renosters is ‘n simbool van hoe ons land uitmekaarval,” het hy gesê. “Dit is my kinders wat gestroop is.”
Van der Merwe se dogter Lindi het gister gesê die familie was Saterdagaand in Sun City vir Skouspel toe hulle net ná middernag ‘n oproep ontvang het dat sewe swaar gewapende mans die renosters gestroop het. Die twee renosters wat by Groblersdal gestroop is. Hulle het behoort aan dr. Deon van der Merwe van Middelburg.
Foto: Deon van der Merwe
” GESTROOPTE RENOSTERS IS ‘N SIMBOOL VAN HOE ONS LAND UITMEKAARVAL. ”
– dr. Deon van der Merwe
Hul nagwag, net bekend as Tanzai, is met ‘n panga op die kop geslaan. Die stropers het hom in sy wagtoring oorrompel, sy hande met sy skoenveters en sy voete met blou draad vasgebind. Die mans het glo knaldempers aan hul gewere gehad en Mollie en Wors, albei sowat vier jaar oud, met bladskote afgemaai. Vier van die stropers was gewapen met 375’s, een met ‘n pistool en twee met pangas.
Volgens Lindi het Tanzai hulle vertel die mans het Zoeloe gepraat en gesê hulle hou die plaas al agt dae dop. Tanzai is erg getraumatiseer en in die hospitaal behandel. Hy sterk nou tuis aan, het Lindi gesê. Die aanval is uitgevoer net nadat Van der Merwe die permitte vir die diere hernieu het. “Wie kan ‘n mens vertrou? Kyk wie is almal by hierdie veragtelike dade betrokke: veeartse, die polisie en mense hoog op in die regering. Dit gaan nooit ophou nie.”
Van der Merwe het gesê sy vyf kinders het lank gespaar om die twee renosters vir hom en sy vrou, Hanlie, present te gee. Hul seun Werner het gesê die twee renosters het “sulke ou klein horinkies” gehad. “Ons was nie van plan om hulle ooit te onthoring nie, want dan sou ons hul horings in die kluis in die huis moes wegsluit. En dan was ons ‘n teiken . . . ” Van der Merwe sr. het gesê hy wil nooit weer renosters hê nie. “ ’n Mens voel so weerloos en emosioneel.”
REFERENCES: Deur Elise Tempelhoff Woensdag 15 Oktober 2014 1:20 vm.
Beeld Woensdag 15 Oktober 2014